Hul het groot plan vir Hilton Weiner
Date: 1995/02/10

Jonges koop die groep vir R1m.

In die middel tagtigerjare het die ontwerper Hilton Weiner ‘n klerewinkel in Kaapstad geopen. Met sy stylvolle klere het die winkel gou groot aanhang by modebewustes opgebou. Nog winkels is oor die land heen geopen.

Teen die einde van die dekade het bestuursfoute soos oormatige besteding aan reklame kontantvloeiprobleme veroorsaak en Weiner verplig om sy geesteskind te verkoop.

In ʼn verrassende skuif het Bergers in 1990 die beheer van die winkelgroep oorgeneem. Bergers se bestuur kon egter nie rigting aan die winkelgroep gee nie. Na ʼn besonder swak jaar waarin verlies van sowat R2 miljoen gelei is, het Bergers verlede jaar besuilt om van die Hilton Weiner winkelgroup ontslae te raak.

Vroeg vanjaar het mnr. Marcel Joubert (30) en me. Moira O’Reilly dit vir R1 miljoen gekoop. Die twee ken mekaar al lank. In die laat tagtigerjare het albei aan die Universiteit van Kaapstad gestudeer toe hulle besluit het om saam in die klerebedryf betrokke te raak. Sedertien het hulle verloof geraak.

Me. O’Reilly het ʼn intense belangstelling in klere en die modebedryf. Sy bestee graag haar vrye tyd in inkopiesentrums waar sy haar oë vir die jongste neigings oophou. Met jeug aan hul kant en ʼn aanvoeling vir die klere wat die tradisionele Hilton Weiner-klient wil he, lyk dit vir die eerste keer in jare of die winkelgroup sy enorme potensiaal kan verwesenlik.

Mnr. Joubert en me. O’Reilly is bekendes in die Wes-Kaapse klere bedryf. Hulle bedryf reeds sedert 1989 die suksesvolle klerevervaardiger Vertigo Clothing en twee winkels met die naam Vertigo in Kaapstad.

Me. O’Reilly het die winkels onder haar vleur terwyl mnr. Joubert die administrasie en die bedryf van die klerefabriek behartig.

Hulle is vasbeslote om die winkel groep tot sy vorige glorie te herbou. “Geeneen van die 17 bestaande winkels sal gesluit word nie. As sake volgens plan verloop, kan die winkels wat onlangs gesluit is, selfs heropen word.“ sê mnr. Joubert.

Hy is oortuig daarvan dat die winkelgroup binnekort weer winsgewend sal wees.

Waarom is die nuwe eienaars oortuig daarvan dat hulle kan slaag nadat twee vorige eienaars gefaal het? “Vertigo Cloting is veel kleiner en meer intiem as Bergers. Ons sal persoonlike aandag aan elke werknemer gee om seker te maak dat elkeen gelukkig en gemotiveerd is,“ sê me. O’Reilly.

“Ons het ook ʼn passie vir klere,“ voeg sy vinnig by.

Die sleutelpersoneel soos aankopers en ontwerpers is al baie jare by die winkelgroep en sal onder die nuwe eienaars in hul poste aanbly. Die nuwe eienaars se hul eerste taak is om die personeel in die winkels diensgerig en gemotiveerd te kry.

“Ons tweede taak is om die gehalte en stylering van die klere te verbeter sonder om pryse te verhoog.“

“Aanvanklik was Hilton Weiner vir sy mansklere bekend. Nou is sy mansklere swakker as sy vroueklere. Daardie tekortkoming sal reggestel word,” se mnr. Joubert.

Dit is moontlik om die gehalte van die klere te verbeter sonder om die pryse te verhoog.

“Eerstens sal die Basics-winkels die meeste van hul klere van ons Vertigo-fabriek kry. Dit sal help om die koste in toom te hou.

Verder glo ons die kleinhandelaar se grootste koste is verloreverkope. Met diensgerigte en gemotiveerde personeellede in die winkels, behoort daardie kostefaktor aansienlik te daal.“ sê hy.

Die koopprys van R1 miljoen sluit alle bates in. ʼn Skuldlas va R8 miljoen by Bergers s’n.

Aanvanklik sal die nuwe eienaars nie adverteer nie. “Dit sou verkeerd wees om te adverteer voordat die regte voorraad in die winkels is. Die produk moet tog aan die verwagtinge voldoen wat in die advertensies geskep word,“ sê me. O’Reilly.


 
|
Site Hosted & Maintained By: XFold